Ons is vanmore hier in die Baai vergader om as sinode te bid. Te luister. Te eet. Te slaap. Nog te bid. Nog te luister. En so nou en dan met mekaar te deel en te gesels. Maar meer as dit. Veral dan ook te lees in die Bybel.
Prof Piet Naude gesels tans met ons oor Publieke teologie. Dit is eintlik ‘n vreemde begrip in die Bybel, want teologie en persoonlik leefruimte daar was eintlik een gewees. Die Bybel leer jy is per definisie heeltyd deel van publieke teologie. Teologie word bedryf op die markplein en die tempelplein.
Van die vierde tot die sestiende eeu is hierdie status quo gehandhaaf, en enige gesprek oor hierdie onderwerp sou sinneloos wees. Die moderne samelewings is egter ‘n geval waar ons “publiek” en “privaat” skei, en geloof raak al hoe meer ‘n binnekamer verskynsel. Veral in die laat 1960’s het die stem begin weerklink dat die kerk weer in AL die lewenssfere moet posvat, iets wat ons verloor het hier in die sestiende eeu. Vroeër was die kerk en die kerktoring sentraal in die dorpe, en die ganse gemeenskap is gesentreer rondom die kerk. Met verloop van tyd het die raadsaal, of die politieke sfeer die dryfveer geword in samelewings en het die klem en stem van die kerk begin stil raak. En selfs later het die klem verskuif na die markplein, wat die ekonomie verteenwoordig.
Maar, die nuwe oplewing in “spiritualiteit” en erkenning van geloof as belangrike faktor in internasionale politiek/sakewêreld heropen die “publieke” geleenthede. Jy kan nie meer die politiek/ekonomie verstaan as jy nie die godsdienste van die wêreld verstaan nie, en dan veral Judaïsme en Islam.
Die NG kerk as publieke kerk vertel ‘n verhaal van 1652 tot in 1948 toe die Nasionale Party aan bewind gekom het. Toe was die NG kerk die publieke kerk. Vanaf 1948 het die NG Kerk geweldige invloed en mag gehad. Die doodskoot vir hierdie status was in 1996 toe die Wet nr. 108 het Sa ‘n konstitusionele demokrasie gehad. Die implikasie was veral viervoudig vir die NG Kerk:
1. Die Grondwet skep ‘n “neutrale” staat.
2. Wetgewing word gebaseer op menseregte.
3. NGK as institusie verloor publieke status.
4. Lidmate verloor aan hulle (politieke) publieke invloed.
Die waarheid is dat die publieke kerk groei vanuit christene wat in ontmoeting met God lewe. Kyk maar na Noag wat saam met God gewandel het. Moses het God by die braambos ontmoet nadat hy moord gepleeg het, Dawid ontmoet God in die veld tussen die skape, en Johannes die Doper het God in die woestyn leer ken. Die verhouding tussen God en mens was dus eintlik nog nooit beperk tot ‘n ontmoeting in jou binnekamer, of persoonlike sfeer nie, maar dit was deurgaans nog in die publiek waar God se harte kom aanraak het. Selfs Jesus het tydens sy aardse wandeling gereeld in eensame plekke teruggetrek om te bid.
As ons na die verhale van die christendom kyk, kan jy nie anders as om te wandel met God en in sy teenwoordigheid nie. En as jy met Hom wandel, dan wandel jy na die publieke ruimtes toe. Daarom moet ons eredienste ook iets hiervan weerspieël. Ons word toegerus en voorberei vir diens in die publieke sfeer. Daarom begin die seëngroet en al die skepe wat in die storms van die see ronddobber word gegroet en daar word vrede toegebid. Lofsange berei ons voor vir die reis wat ons aanpak, daarsonder kan ons nie in God leef nie. Elke moment en element van die liturgie dra die boodskap: Ons is op pad!
Vriende, ons weet ons kan nie alles vir almal wees nie. Maar ons moet kies waar ons as gemeente/sinode ons geloof op ‘n post-moderne manier kan uitleef. Prof. Piet naude sluit af met die woorde: “The Church must become the voice of the voiceless”.
Hierop kan ek net antwoord: Amen!